Skoorstene oorheers. Die Matimba- en die Medupi-kragstasie toring uit bo die plakkershuise, plase, huise, skole, besige kerke, halfleë winkels en wapenhandelaars wat ammunisie aan ’n reuse-jagindustrie verskaf. Daar is ’n McDonald’s. En, onder die koolstofdioksiedpluim, smeul die woede, rassisme, korrupsie en kwynende hoop in die steenkooldorp Lephalale.
Lephalale, in die Waterbergdistrik in die Limpopo-provinsie, het die harde, dorre klimaat van die Bosveld. Die kwik styg dikwels tot bo 35 ºC en die nagte bring geen verligting nie: Die lug koel nooit regtig af nie.
Reën, wanneer dit wel kom, maak geen verskil aan die hitte nie, buiten dat dit die humiditeit verhoog en muskiete na die gebied bring.
En ondanks die feit dat die son die lug wit verhelder, is die aarde swart. Die Waterberg-steenkoolveld bevat tussen 50 en 70 miljard steenkool van ’n goeie gehalte. Koolstof wat die dorp uit sy plattelandse verlede lig.
Lephalale, South Africa
Met meer struktuurstaal as die wêreld se hoogste gebou en na raming 800 000 m3 beton, is Medupi gróót.1 Massief. ’n Reusagtige ding wat die aarde inasem en rankende hoogspanningskragdrade uitasem.
Met ’n kapasiteit van 4,8 GW is Medupi die wêreld se grootste droogverkoelde kragstasie. Sy leeftyd word geraam op 60 jaar. Daar is ’n soort skoonheid aan Medupi, ’n ingenieurswonder, maar tog ’n baie duur een.
Suid-Afrika se staatskragverskaffer, Eskom, het feitlik ’n monopolie op die opwekking, transmissie en distribusie van elektrisiteit: Eskom se kragkapasiteit van 51 GW verskaf elektrisiteit vir Afrika se mees ontwikkelde ekonomie en Medupi is sy vlagskipprojek wat die meeste vertraag is. Medupi se bouwerk is jare agter skedule. Medupi oorskry ook tans – by verre – sy begroting.
Sedert bouwerk in 2007 begin het, het Medupi Eskom R145 miljard (VSA$ 10,1 miljard) gekos en nog VSA$ 1,2 miljard is nodig om die aanleg ten volle operasioneel te kry.2
Tien kilometer vanaf Medupi is daar nog ’n kragstasie van Eskom, die Matimba-aanleg van 3,9 GW, wat in 1993 voltooi is. In vergelyking met die nasionale angs oor Medupi se voortdurende kragonderbrekings en ontwerpfoute, is Matimba eenvoudig eentonig: Matimba verbrand bloot steenkool en produseer koolstofdioksied – oor en oor, en só sal dit wees vir die volgende dekades.
Exxaro, ’n swartekonomiesebemagtigingsmaatskappy, bestuur die nabygeleë Grootegeluk-steenkoolmyn. Exxaro het langtermynkontrakte om Medupi en Matimba (met steenkool) te voer.
Teen die huidige produksietempo het dié oopgroefmyn genoeg steenkool vir die volgende 125 jaar.3
Mynbou is roetine – skiet, laai, voerband…was en herhaal – en Eskom sal vir die volgende ses dekades die aankoper wees. ’n Vervelige, maar winsgewende onderneming. Exxaro se netto wins was verlede jaar sowat VSA$ 493 miljoen.
Grootegeluk, Matimba en Medupi...’n drieluik van krag.
Die oprigting van Medupi het Lephalale ’n gedaanteverwisseling laat ondergaan.
Toe die ekonomiese ontploffing begin, het die regerende African National Congress (ANC) dit verkondig dat die eertydse dooierige, plattelandse dorpie Suid-Afrika se eerste postapartheidstad sal word.
Migrante het na die dorp gestroom en kontrakteurs van sover as Thailand en China het huishuur die hoogte laat inskiet. Hoewel betroubare syfers nie beskikbaar is nie, dui anekdotiese bewyse daarop dat ’n aansienlike hoeveelheid Zimbabwiërs, wettig en onwettig, hier aangekom het. Ekonomiese geleenthede was ’n trekpleister, terwyl terreur en die vrees vir ekonomiese verval hulle uit Zimbabwe laat vlug het.
Die dorp se pad- en waterinfrastruktuur het gesukkel om die druk te hanteer. ’n Nuwe winkelsentrum is gebou: deftige klerewinkels, kettingrestaurante, drie kruidenierswinkels, ’n diens wat telegrafiese oorplasings doen, banke en ’n luukse winkel wat kamptoerusting verkoop.
Die bevolking in die Lephalale-distriksmunisipaliteit het met 60% toegeneem en plakkershutte het in die township Marapong opgeskiet.
Die instroming van werkers het die balans onder die geslagte van die distrik se 140 000 mense laat skeeftrek: Daar was nou 12 mans vir elke 10 vroue.4
Volgens plaaslike sekswerkers – 500 prostitute, hoofsaaklik afkomstig van Zimbabwe – was daar ’n toenemende aanvraag na hul dienste tydens die konstruksiefase van Medupi.
Die voorkoms van MIV/vigs in die Waterberg-distrik was 27,3% in 2013, die hoogste in die Limpopo-provinsie. Van 2009 tot 2014 was MIV/vigs die grootste oorsaak van sterftes in Lephalale onder mense tussen die ouderdom van 25 en 64 jaar en die tweede grootste vir diegene van 15 tot 24 jaar.5
Bouwerk aan Medupi is byna klaar en so ook is die geld. Tye raak nou moeilik. Die tarief vir seks was tydens die opbloei VSA$ 10 en tydens die (ekonomiese) hoogtepunt VSA$ 14. Die tarief het nou geval tot so min as VSA$ 2.
In terme van formele werk, moet iemand by Eskom werklik George Orwell se werk verheerlik: 20 000 werkers word “gedemobiliseer”. Afgelê, om deel te vorm van die land se 38%-werkloosheidsyfer.6
Ellisras, soos Lephalale voorheen bekend gestaan het, was vóór Matimba en Medupi nie veel meer as ’n landbounodus nie. ’n Klein dorpie in die binneland.
Johan Lewin, ’n gebore Wes-Kapenaar wat as sweiser kontrakwerk in die 1980’s by die Matimba-kragstasie gedoen het, beskryf Ellisras as die mees rassistiese plek in Suid-Afrika waar hy langs gewapende wit mans sy werk moes doen. Hy sê: “Ek wil my tyd dáár vergeet.”
Versteek onder die voorste lessenaar van die dorp se biblioteek en ingedruk in ’n staatsdienslêer is ’n vreemde versameling foto’s en dokumente wat uit die 1980’s dateer.
In ’n dokument wat uit 1990 dateer, staan daar geskryf daar is “10 500 wittes teenoor ±10 000 swartes”.
In ’n ander dokument word na Marapong as die “swart dorp” verwys. Daar is ook ’n tydskrif wat die plaaslike kommando, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se reserwemag tydens apartheid, verheerlik. Op die voorblad van die tydskrif is ’n wit middeljarige soldaat wat op die kruin van ’n berg op aandag staan. Sy geweer is aan sy sy – ’n duidelike bierpens met die maag ingetrek: Die hele prentjie afgeëts teen een van die Waterberg se pragtige sonsondergange.
Eskom en Exxaro beskou steenkool nie net as die enigste oplossing vir Suid-Afrika se noodsaaklike kragopwekkingsvermoë nie, maar ook as deel van die land se agenda vir transformasie. Deur voorkeur te gee aan regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) probeer maatskappye nou hul bes om apartheid se afsonderlike ontwikkeling en onderdrukking reg te stel.
Die bestuursingenieur van bedryf by die Grootegeluk-myn, Prince Malatji, is in ’n landelike nedersetting buite Polokwane in Limpopo gebore. Deur ’n opleidingsprogram wat Exxaro aanbied, het hy deur die stelsel opgang gemaak: van ambagsman, toesighouer tot bestuurder. Hy is nou besig met ’n MBA-graad in meganiese ingenieurswese. Die transformasie-agenda het, soos wat hy dit stel, “ ’n inklusiewe omgewing binne ’n diverse konteks geskep wat vir my geleenthede gegee het en dit bemagtig ook ander mense om te wees wie hulle kan wees.”
Mamoloko Lekokotla, tans ’n skofbaas by Eskom, is in ’n armoedige nedersetting 85 km vanaf Lephalale gebore: In die vroeë 1990’s was hy deel van ’n familie van vyf mense wat op sy ouma se klein pensioen moes oorleef. In ’n stadium kon hy nie verder skool toe gaan nie, nét omdat sy ma nie ’n skooluniform vir hom kon bekostig nie.
In 2004, ’n jaar nadat hy matriek met verskeie onderskeidings geslaag het, het hy ’n beurs van Eskom ontvang om elektriese ingenieurswese aan die tegniese kollege in Lephalale te studeer. Toe het hy by Eskom begin werk, “… was dit soos om adrenalien in iemand se hart te spuit. Dít het alles in my ’n reuse-hupstoot gegee, my selfvertroue, ek kon uiteindelik nou my droom uitleef.”
Vandag is Lekokotla se huis in een van die dorp se woonbuurte wat voorheen net vir wit mense bedoel was: ’n Televisie met ’n groot skerm en ’n goeie klankstelsel pryk in sy huis se leefvertrek. Maar, nog belangriker, sy werk by Matimba het hom in staat gestel om na sy broers en susters en sy bejaarde ma om te sien. Hy het nou die finansiële vermoë om haar te help om dokters te raadpleeg.
En dít is die droom: Om Prince en Mamoloko se suksesstories nie net dié van die dorp nie, maar van die hele land en sy mense te maak. Tydens die jare 2000 en vroeë 2010’s was dit die regering se doelwit om teen 2025 van Lephalale die land se energienodus te maak: Nog vier steenkoolkragstasies om steenkoolproduksie tot ’n honderd miljoen ton te verviervoudig en om die spoorwegnetwerk uit te brei sodat in Asië se toenemende vraag voorsien kan word.
’n Nuwe Sasol-raffineringsprojek (waar steenkool tot brandstof verwerk sou word), wat rots tot swart goud teen ’n tempo van 80 000 vate per dag sou verwerk, is beoog. Die dorp se bevolking sou tot ’n kwartmiljoen verdubbel.7
Die plan was nie so gek as wat dit op die oog af gelyk het nie. Sedert die 1750’s het steenkool nywerheidsontwikkeling in lande wêreldwyd aangedryf en miljoene mense uit armoede opgehef. Groot-Brittanje, Amerika, die Sowjetunie, Duitsland en onlangs China gebruik almal steenkool om hul smelterye, stookoonde en fabrieke aan die gang te hou en het só nasionale welvaart geskep om armoede te verlig. Daar is ook ’n verwronge voorbeeld hiervan in Suid-Afrika.
Die Witwatersrand se myne het tot op hede 50% van die wêreld se goudproduksie opgelewer.8 Goud het apartheid se vreesaanjaende militêre masjinerie gefinansier en die kontant verskaf om Johannesburg se wolkekrabbers en snelweë mee te bou. Steenkoolaangedrewe kragstasies, smeltoonde en fabrieke het die myne bedien en die swart arbeidersklas het dít alles in drakoniese ellende gebou.
Soos die ekonoom Peter Bernstein by geleentheid gesê het: “Die goud aan die einde van die reënboog is die toppunt van geluksaligheid, maar die goud uit die diepte van die myn kom uit die hel.”
Op die oomblik skep die steenkoolmynbedryf werk vir 87 000 mense.9 Hiervan werk 3 300 by die Grootegeluk-steenkoolmyn.10 Terwyl steenkool gesogte werksgeleenthede deur middel van die vakbonde skep en die transformasie-agenda dryf, is dit ’n vuil besigheid.
Joe Meyer is, as die afgetrede algemene bestuurder van die myn en een van die argitekte van Lephalale se ontwikkeling, ’n vername man op die dorp. Sy huis is byna net soos dié in Better Homes and Gardens en sy eie foto’s hang teen die mure: foto’s van wild langs die steenkoolmyn se skagte. Meyer neem ons op ’n toer in sy goed toegeruste Landcruiser. Eers wys hy vir ons die huise wat Exxaro onlangs vir sy werkers gebou het: middelklas-meenthuisblokke van baksteen. En teen die agtergrond is Matimba. Toe ry ons deur Exxaro se grond: Die Bosveld wat die oopgroefmyn en stortingsterrein omring. Swartwitpense, koedoes, bastergemsbokke en waterbokke wat rondloop. Daarna trakteer hy ons op ’n warm ontbyt in die veld.
Terwyl ons spek en eiers eet, praat hy oor tansformasie en ontwikkeling. ’n Blik op die verlede. Hy sê: “Ek dink dat swart mense in hierdie hele transformasieproses uiters bederf geraak het. Hulle word steeds bederf. Hul eise neem net toe.”
Toe sê hy: “Wie dink julle het die huise in Soweto gebou? Die swartes? Nee, die regering het dit gebou…Voor 1994 was daar baie meer swart as wit skole… Jy kyk na die mense wat die bedryf betree; wie het hulle opgelei? Nee man, om te beweer die wittes het als gekry en die swartes niks, dit is net nie waar nie.”
Met armoede, wat Suid-Afrika se grootste sosiale knelpunt is, sien die ANC steeds die Waterberg-steenkoolveld as ’n hulpbron, soos wat die goudmyne was en wat ’n volgende nywerheidsoplewing vir die land kan bring.
Dipuo Moatshe, voorheen ’n plaaslike politikus tydens Lephalale se opbloei, is nou ’n parlementslid in die Nasionale Vergadering: Sy is in partypolitieke terminologie ’n leier. As ’n ooggetuie van die dorp se groei vanuit die regerende party se politieke strukture, steun sy ook die regering se versugting na meer steenkool. Soos sy dit stel, “…om ’n dinamiese stad te bou. Ons moet ontwikkeling en die dienste vir ons mense uitbrei.”
Volgens haar behoort Eskom nóg ’n steenkoolkragstasie met ’n opwekkingsvermoë van nog 4 800 MW in die omgewing te bou. Moatshe sê ’n bykomende steenkoolaanleg “is deel van ons (Suid-Afrika) se ekonomiese ontwikkeling, om mense met werksgeleenthede te help… Ons prioriteit as die ANC is om werkloosheid in die land te verminder.”
Maar die droom van ekonomiese voorspoed en ’n regverdige samelewing kan as iets heel anders opeindig.
Frans Seanego, hoof van die Lephalale-werkloosheidsforum, is ’n bitter jong man. Sy woede brand soos wit fosfor. “Niks in Lephalale is goed nie, als is verrot. As jy nie ’n ANC-lidmaatskapkaart met jou saamdra nie, kry jy nie werk nie. As jy ’n lid van die EFF of DA [opposisiepartye] is, vergeet daarvan. Bly liewer tuis.”
Sy woede is nie net jeens diegene wat sit en niks doen in plakkershutte terwyl die ou wit garde en die nuwe swart elite in hul deftige BMW’s en Ford 4x4’s rondjaag nie. Dit is die onvermydelike teenstellings in ’n land waar ongelykheid nie net die sosiale stelsel binnedring nie, maar dit definieer.
Hoewel Suid-Afrika ’n vooruitstrewende ekonomie met ’n komplekse finansiële stelsel, met universiteite, nuwe tegnologiese maatskappye, swierige wolkekrabbers, fabrieke, petrochemiese aanlegte en myne is, is dit ’n land met stowwerige townships waar werkloosheid algemeen is.
Dit is ’n samelewing met ’n demokratiese en vooruitstrewende Grondwet, waarin sosio-ekonomiese vryheid ingebou is, en waarin elke burger die reg tot ’n skoon, veilige en gesonde omgewing het, maar wat deur endemiese korrupsie, werkloosheid, misdaad en vreemdelingehaat ondergrawe word.
Mamogela, ’n klein informele nedersetting, is geleë langs die noordelike roete op die pad uit Lephalale uit, net verby die padteken wat besoekers in die dorp verwelkom met dié woorde: “A Vibrant City and Energy Hub”.
Plakkershutte aan die een kant en ’n ou sandmyn aan die ander kant. En ’n bitter smaak in die wind. Ahmed Yussuf Ali is ’n migrant van Somalië wat onlangs hierheen gekom het. Hy werk en slaap in ’n klein winkeltjie wat uit sink gebou is. Hier verkoop hy basiese benodighede aan die plakkersdorp se inwoners. Daar is ’n voortdurende onveranderlikheid aan Ali se dae: Hy leef in vrees dat wanneer die son sak “tsotsi’s” (diewe) sal kom om hom dood te maak.
Die reuk van Lephalale is nie die dieselwalms uit die alomteenwoordige steenkooltrokke of die oorweldigende stank van rou rioolafval wat uit gebreekte en oorlaaide pompstasies borrel nie. Die ware reuk is dié van wedersydse frustrasie en weersin.
Die Waterberg is ’n ou landskap, die oudste van die ou wêreld.
Die wortels van die mense gaan baie ver terug tot aan die begin van die mensdom se geskiedenis. Baie voetspore loop oor hierdie grondgebied – oor tyd en plek heen. Die eerste anatomies moderne Homo sapiens is afkomstig van Suider-Afrika. Die oorspronklike inwoners van die streek, wat nou kollektief as die San bekend staan, is sowat 2 000 jaar gelede deur Bantoe-sprekende veeboere verdryf wat hulle hier gevestig het.11
Daar is San-rotstekeninge naby Lephalale – binne ’n kwessie van ’n paar kilometer beweeg jy van die kunswerke na die kragstasie.
’n Paar uur se ry noord van Lephalale is die argeologiese terrein van die Mapungubwe-koninkryk (900 tot 1300). Vanaf die kruin van ’n plat berg het koninklikes oor die gewone mense regeer en deel gehad aan die handelsnetwerk wat gestrek het van die koninkryke aan die Oos-Afrika-kusgebiede, al die pad tot in Indië en China. Goud en ivoor is geruil vir porselein, glaskraletjies en katoen.12
Dalk is die indrukwekkendste artefak wat van die Mapungubwe-terrein kom die renosterbeeldjie van goud. In die Mapungubwe Nasionale Park is daar ook, sover bekend, die enigste oorspronklike San-tekening van ’n renoster: ’n Vingerwysing na die huidige uitwissing van ’n spesie en ’n vlaag van renosterstropery in Suid-Afrika.
Die Duitse volksmoord (1904 tot 1908) op die Herero’s en Namas het daartoe gelei dat van die Herero-vlugtelinge hulle in 1906 tot 1907 in die omgewing van Lephalale gevestig het.
Hul nasate woon steeds hier.
Danias Urayai, ’n voormalige Zimbabwiese polisieoffisier en nou ’n joernalis, het in 2009 in Lephalale aangekom. Op sy tweede dag in Lephalale het hy ’n werk gekry om in die kontrolekamer van ’n veiligheidsmaatskappy te werk. Hy het Zimbabwe verlaat omdat “daar hiperinflasie in Zim was. Terwyl jy in die tou staan om iets te koop, verander die prys nét daar. Dit het so erg geword, weet jy, tot op ’n punt waar ek en my vrou met ons gesamentlike salarisse nie eers ’n tweeliterbottel-kookolie kon koop nie.”
Terwyl hy dit kon regkry om ’n Zimbabwiese paspoort te kry, sukkel ander Zimbabwiërs. Die Zimbabwiese regering het geen buitelandse valuta om die spesiale papier te koop waarop paspoorte gedruk word nie. Nuwe paspoorte sal nou eers in 2021 uitgereik word.13 Soos Urayai sê: “Sommige mense kom gewoon hierheen sonder ’n paspoort en dokumente, nie omdat hulle dit wil doen nie, maar omdat hulle geen ander keuse het nie.”
Die huidige instroming vanaf Zimbabwe na Lephalale is niks nuut nie. Mense beweeg reeds vir honderde duisende jare heen en weer na hierdie streek. As ’n mens na die geskiedenis kyk, ’n blik uit die verre verlede het, verdwyn die idee van grondbesit so vinnig soos die Lephalale-sonsopkoms: Die sagte lig wat jou binne ’n oogwink verblind.
Wat anders is, is hoe die edele droom van ’n dorp se vooruitgang gekniehalter is deur die mens se nihilistiese benadering jeens die natuurlike omgewing.
In 2005 het die ANC se beleggingsarm, Chancellor House, ’n aandeel van 25% in Hitachi Africa bekom. Eskom het Hitachi hierna ’n kontrak aangebied om die stoomketels vir Medupi te bou: Suid-Afrika se regerende party het ’n finansiële belegging in ’n maatskappy gemaak waarmee die staatsbeheerde Eskom uiteindelik sake ter waarde van VSA$ 5,6 miljard gedoen het.
Van 2008 tot 2012 het Hitachi Africa Chancellor House VSA$ 10,5 miljoen betaal: ’n Belegging wat 5 000% rente op sy aanvanklike belegging van net minder as VSA$ 200 000 verdien het.14
’n Subkontrakteur van Hitachi Africa het die asinstallasie verskaf. Dit het egter misluk en stofas van masjienslypwerk het oor die aanleg versprei.15 Sowat 9 000 van die sweislasse wat Hitachi op die stoomketels aangebring het, het ’n defek gehad. Volgens Eskom word die koste van Hitachi se ontwerpfoute op sowat VSA$ 4,9 miljard geraam.16
Wydverspreide plundering van die staat, wat in Suid-Afrika “staatskaping” genoem word, het die administrasie van oudpresident Jacob Zuma gekenmerk en Eskom was reg in die middel daarvan.
Volgens mediaberigte in April 2019 het Suid-Afrika se spesiale ondersoekeenheid gevind dat die diefstal met betrekking tot die konstruksie van Medupi en Kusile die staat tot dusver sowat VSA$ 9,7 miljard gekos het.17
Weens die ontwerpfoute en vertragings met betrekking tot die konstruksie van die kragstasie, presteer Medupi nie naastenby volgens sy teoretiese kapasiteit nie en beurtkrag het algemeen geword. Elke dag wanneer beurtkrag voorkom, kos dit die ekonomie sowat VSA$ 140 miljoen.18
Medupi bloei geld. Soveel so dat Eskom se skuld nou so groot is dat niemand werklik ’n idee het hoe dit ooit terugbetaal sal kan word nie. Sy skuld het oor die laaste dekade met sowat VSA$ 2,8 miljard19 toegeneem, terwyl kragtariewe van 2006 tot 2017 met 488% toegeneem het. En omdat Eskom nét deur die staat besit word, is daardie skuld uiteindelik dié van die staat en dus dié van die belastingbetaler.
Eskom se kredietgradering is in 2016 tot rommelstatus verlaag.20
In 2017, het Fitch en Standard and Poor Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer. Belasting in Suid-Afrika is verhoog, maar belastinginkomste het verminder. Die ekonomie is nou in ‘n tegniese resessie. Skuld word (na die volgende jaar) oorgedra. Armoede wink.
In sy staatsrede in Junie 2019 het Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, vir Eskom ’n reddingsboei van VSA$ 16 miljard gegee.21 Die laaste kredietgraderingsagentskap wat aan Suid-Afrika ‘n beleggingsgradering kon gee, het die land op 27 Maart tot rommelstatus afgegradeer.
Een van die onmiddellike slagoffers van Eskom en die staat se groter wordende skuldlas, is die beplande, brandende begeerte om steenkoolmynbou en die benutting van steenkool in en om Lephalale uit te brei.
Ondanks sy naam, het die Waterberg net nie genoeg water vir al die beplande myne en kragstasies in die streek nie. Die enigste manier waarop water hierheen gebring kan word, is deur ’n watervervoerstelsel te bou deur ’n pypleiding van 100 km teen ’n koste van VSA$ 970 miljoen aan te lê.
Die projek wat die waarskynlikste aangepak gaan word, is Exxaro se Thabametsi-steenkoolmyn en die steenkoolkragstasie van 600 MW wat daaraan gekoppel is. Aktiviste22 van die burgerlike samelewing daag egter die omgewingsgoedkeuring vir dié kragstasie in die hof uit.
Die dorp wag dus geduldig. ’n Klompie mense in vrees vir wat dalk wag, van ashope wat oor die veld versprei is en die reuk van swaeldioksied wat in die lug hang. Die meeste is egter hoopvol, maar die hoop begin vervaag. Die hoop dat nog ’n groot kragstasie gehou en meer myne oopgemaak sal word. Wanneer die water kom, sal die masjienerie opdaag; werk vir die vakbondlede, migrante en kontrakteurs sal instroom en die huur van wooneenhede weer opskuif. Die twee inkopiesentrums sal herleef. Geld sal weer verdien kan word. Die siening dat steenkool ontwikkeling is, is miskien al waarin hierdie diepverdeelde dorp met sy selfopgelegde segregasie nog gesamentlik glo.
Tog is daar meer aan Lephalale as net steenkool. Hulle maak ook diere dood.
Daar is baie wildtrofeë dwarsdeur die dorp. Van die slaghuis tot in die hotel staar ’n luiperd, ’n bok, sebra, buffel en vlakvark met glaserige oë na ’n mens. Ná ’n ruk sien jy nie eers meer die lewelose koppe raak nie. In een van die slaghuise buite Lephalale was daar selfs ’n babakrokodil in die vrieskas.
Lephalale is ’n afgesonderde plek. Die naaste stad, Pretoria, is sowat drie uur se ry daarvandaan. Tydens ’n rit na Lephalale ry ’n mens verby die een wildplaas na die ander. Soms voel dit byna asof jy op safari is.
In die ry sien jy swartwitpense, elande, gemsbokke en kameelperde. Geen een van hierdie diere is wild nie. Hulle is almal handelsartikels.
Veranderende reënvalpatrone het daartoe gelei dat dié gebied se boere van vee- na wildboerdery oorgeskakel het. Marius Kotzé, eienaar van die groot wildsplaas Rhinoland Safaris, sê: “Met die droogte wat in die vroeë jare ’80 begin het… die droogte het begin en dit het net nooit weer na normaal teruggekeer nie. So mense kan nie meer met beeste boer nie. Dit is net te droog.”
Jagters kan van die spyskaart af hul keuses maak: Dit kos sowat VSA$ 60 om ’n vlakvark te skiet, VSA$ 400 vir ’n sebra, VSA$ 35 000 vir ’n renoster. Bobbejane en jakkalse kan dikwels gratis geskiet word. Net minder as 18 000 mense in Limpopo werk in die jagbedryf en jag dra VSA$ 950 miljoen per jaar by tot die Suid-Afrikaanse ekonomie.23 Jagters van Amerika, Europa, Mexiko, Argentinië en die Verre-Ooste kom na Lephalale om hul trofeë te kom haal.
Kol. Steve Roets van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se veediefstaleenheid, wat aan die voorpunt staan van die stryd teen stropery, sê: “Ek glo nie daar is ’n plek soos ’n wildernisgebied nie. Ons moet dit soos ’n groot wildplaas bestuur.”
Omhein, gepatrolleer, gemerk, verdoof, op trokke gelaai en verkwansel.
Die Bosveld, die lieflike natuurlike bioom wat die fondament gelê het vir dié steenkooldorp, is eintlik een groot tegnologies gevorderde stuk landskap waar wild baie maklik en gou in geld omskep word: sowel wettig as onwettig.
’n Renosterhoring word op die swartmark vir sowat VSA$ 70 000 verkoop, ietermagoskubbe is duisende dollar per kilogram werd. Net soos ander diere is renosters en ietermago’s tans meer werd dood as lewend.
Adjudant-offisier Jurg van Heerden, van die eenheid vir bedreigde spesies in Lephalale, sê die meeste van die stropers wat hy in hegtenis neem, kom van Zimbabwe. Die res kom van Mosambiek en Suid-Afrika. Hy is nie optimisties oor die toekoms nie.
’n Groot deel van die probleem is, volgens Van Heerden, die politieke en ekonomiese situasie in Zimbabwe en Mosambiek.
Hy sê: “Die Zimbabwiërs het niks. Dit gaan om lewe en dood vir hulle. Jy kan hulle nie werklik kwalik neem omdat hulle probeer geld maak nie, maar dit is net op die verkeerde manier. En die renoster, die Chinese skep dié mark.”
Kol. Roets is ook pessimisties. Hy meen soos renosters minder word, sal stropers olifante, ietermago’s en leeus toenemend teiken. Hy glo deur die handel in renosterhoring oop te stel, sal lewendige renosters in waarde toeneem. Boere sal dit kan bekostig om dié diere aan te hou en hulle selfs te teel en die swartmark sal deur wettige handel gesmoor word.
’n Vooraanstaande eienaar van ’n wildplaas in Lephalale, Hardus Steenkamp, stem saam met Roets: “Ek dink hulle [die regering] moet in hierdie opsig die bedreigde spesies aan die boer gee. As ek geld uit hulle kan verdien, sê byvoorbeeld uit ’n jagluiperd, sal ek na my diere omsien, want ek sal kan jag. Hulle het waarde.”
Ed Newcomer jr., ’n spesiale agent van die U.S. Fish & Wildlife Service (USFWS), gekoppel aan die Amerikaanse ambassade in Pretoria en wat die polisie bystaan, stem nie saam met Roets en Steenkamp nie. Hy glo die wettiging van die handel in renosterhoring sal nie die probleem oplos nie, maar heel waarskynlik vererger. Vir Newcomer lê die probleem by die verbruiker (in Asië). As die Asiese mark, veral dié in China en Viëtnam, nie hul vraag na Afrika se wild verminder nie, sal stropery voortgaan tot alles uitgewis is.
Toenemende welvarendheid in Asië het die vraag na haaivin, ivoor, renosterhoring, skubbe en beendere verhoog. En steenkool hou aan om hierdie voorspoed voort te stu.
As Medupi24 ten volle operasioneel is, sal hy en Matimba25 jaarliks saam 60 Mt koolstofdioksied (CO2 ) in die atmosfeer vrystel. Dit is net soveel CO2 as die kweekhuisgasse wat vrygestel word wanneer een mens 61 miljoen keer retoervlugte van Londen na New York onderneem.26 Die moontlikheid is gering dat Suid-Afrika, veral ná Medupi se lang, pynvolle en peperduur konstruksie, hierdie kragstasies binne die volgende ses dekades sal sluit.
In 2017 het die mynreus Exxaro ’n kontrak van 10 jaar met Transnet (die Suid-Afrikaanse staatspoordiens) gesluit om steenkooluitvoer vanaf Grootegeluk ses keer tot 6,5 Mt te verhoog.27 Exxaro het onlangs VSA$ 1,4miljard in Suid-Afrika se steenkoolsektor belê. Dit sluit ook die uitbreiding van die Grootegeluk-steenkoolmyn in. 28
Maar, soos met die huidige golf van steenkooluitbreiding in China, Rusland en Indië29 , is die sluiting van steenkoolmyne en die verbranding van dié fossielbrandstof in Lephalale presies wat moet gebeur om katastrofiese klimaatsverandering te voorkom.
Met die globale CO2-uitlaatgasse wat ’n rekordhoogtepunt in 2018 bereik het, het ons moontlik reeds die punt bereik waar die omdraaikans skraal is omdat die temperatuurgrens van 2 ºC reeds oorgesteek is (of dit sal binnekort wees).30 ’n Styging van 3 tot 4 ºC in die gemiddelde temperatuur teen die einde van die eeu lyk nou meer moontlik. Rampe staar ons in die gesig en Lephalale is die rede daarvoor.
Die dorpie Mopane is klein: ’n verwaarloosde stasie, ’n winkel, spoorweghuise wat uit die apartheidsera dateer en ’n skool. Mopane is ook reg langs die Musina-Makhado- spesiale ekonomiese sone (SEZ), wat vir buitelanders belastingvoordele bied. Dié SEZ is 330 km noord van Lephalale en reg langs die Grootpad na die Noorde geleë – die kronkelende teerpad wat Kaapstad met Kaïro verbind. Die teerpad se westelike vertakkings is die aansluiting by Sentraal-Afrika en dié na die ooste lei na hawens, wat die seepad na Asië is.
Pres. Cyril Ramaphosa het in September 2018 ’n beleggingsooreenkoms van ’n geraamde VSA$ 10,5 miljard met China oor dié SEZ gesluit. Chinese maatskappye beoog om ’n aanleg in die SEZ te bou wat voorsiening maak vir ’n steenkoolwassery, kooksoonde, vlekvrye staal, ystermangaanpoeier, yster en staal, en kalk. Die SEZ sal na raming 60 km2 groot wees. ’n Nuwe steenkoolkragstasie van 4,6 GW sal alles van krag voorsien.31
Die omgewingsimpakstudie vir die Spesiale Ontwikkeling Sone sal na verwagting in die tweede helfte van 2020 voltooi wees.
made with Lay Theme